Twee veiligheidswagte trek rowers vas

Jaco du Toit en Darron de Lange staan by die silwer Toyota Avanza. Foto: Franco Megannon/Beeld

Twee veiligheidswagte, Jaco du Toit (33) en sy vriend Darron de Lange (30), het Sondagoggend drie vermeende rowers vasgetrek. Die hele voorval word beskryf as ʼn toneel uit ʼn Hollywood-rolprent, met ʼn wilde hoëspoed-jaagtog, ʼn skietery en ʼn botsing, waar die boewe se voertuig omtrent 2m deur die lug getrek het.

Beeld berig Du Toit, van Monitor Net, en De Lange, van Apcam, het gister omstreeks 07:00 by ʼn Sasol-vulstasie in Centurion stilgehou om koffie te drink, toe personeel daar vir hulle gesê het hulle is pas deur vier mans beroof. Die rowers het in ʼn silwer Toyota Avanza gevlug. Die twee helde het in hul voertuie gespring en die rowers op die Ou Johannesburgpad agterna gesit. In ʼn poging om weg te kom, het die bestuurder van die voertuig, waarin die vermeende rowers gereis het, teen Du Toit se voertuig gebots.

Die rowers het teen ongeveer 190 km/h gejaag en op Du Toit en De Lange begin skiet, waarop die veiligheidswagte teruggeskiet het. Die wegkomvoertuig se agterwiel is raakgeskiet waarna dit deur die lug getrek en teen aankomende verkeer gebots het.

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle geskiet is, een verdagte is in die botsing beseer en ook aangekeer, en een verdagte het daarin geslaag om weg te kom. Luitenant-kolonel Lungelo Dlamini, ‘n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê een verdagte is nog soek.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.