Twee verloor “onbeperkte ADSL”-saak

mwebRyan Roxo en Joshua Gilbert het ʼn regsgeding teen die internetdiensverskaffer, MWEB, verloor nadat hulle aangevoer het die maatskappy mislei kliënte met sy “onbeperkte ADSL”-aanbod.

Volgens die uitspraak deur die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) het die twee mans misbruik gemaak van die onbeperkte aanbod wat die dataverbruik van ander klante van MWEB beïnvloed het.

MWEB het aan die GRS verduidelik dat Roxo se internetgebruik vir Januarie 2012 sowat 818 gigagrepe (GB) beloop het. “Dit is gelykstaande aan die aflaai van data teen nagenoeg die maksimumspoed (onwaarskynlik) vir ten minste 16 ure per dag vir die hele maand lank wat bykans onmoontlik sou wees sonder om data sonder toesig en outomaties af te laai,” het MWEB gesê.

Gilbert het ongeveer 300GB afgelaai. “Dit vereis ʼn gemiddeld van 15 ure per dag teen nagenoeg die maksimumspoed vir die hele maand lank.”

Volgens MWEB is dit teenstrydig met die beleid van aanvaarbare gebruik wat deel is van die kontrak en wat altwee mans onderteken het. Die beleid is ingestel om die volgehoue lewering van diens aan al sy klante te verseker.

Volgens die mans het hulle waarskuwingsbriewe van MWEB ontvang oor “herhaaldelike voorvalle van volgehoue aflaai van data oor uitgerekte periodes” en indien hulle versuim om hieraan te voldoen, hul diens moontlik gekanselleer sou word. Hulle het aangevoer dat die produk nie as “onbeperk” beskryf moes word indien MWEB die gebruik monitor en aansluitings kanselleer gebaseer op die volume data nie.

MWEB se die woord “beperk” verwys na pakkette wat ʼn voorgeskrewe hoeveelheid data aan ʼn klant toestaan, en die aansluiting termineer sodra die klant die voorgeskrewe limiet bereik het. “Onbeperk” verwys na pakkette waar ʼn klant se aansluiting nooit getermineer word nie, ongeag die hoeveelheid data wat gebruik word.

MWEB sê die manier waarop die mans egter die stelsel mishandel het hou verband met die gedrag van die klant met verwysing na oplaai en aflaai van data en nie die hoeveelheid data wat gebruik word nie.

Die saak is op 22 Oktober van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.