Twee vermeende renosterstropers is tydens ʼn skermutseling met die polisie in die Phinda-wildreservaat naby Jozini in KwaZulu-Natal doodgeskiet.
“Twee ander persone is in hegtenis geneem,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “ʼn Spesiale taakspan van die Durbanse georganiseerdemisdaad-eenheid en die Nyathi-teenstropingseenheid, het Woensdag omstreeks 18:15 te hore gekom van ʼn groep mans wat die wildreservaat betree het.”
Die groep onbekende mans het glo die Phinda-wildreservaat betree en toe die lede van die taakspan hulle nader, het hulle op die lede begin skiet. “Twee verdagtes is noodlottig gewond,” het Zwane in ʼn verklaring gesê. “Twee ander verdagtes, onderskeidelik 40 en 42 jaar oud, is later in hegtenis geneem.”
Zwane sê die oorledenes het ʼn ongelisensieerde vuurwapen, byl en mes, wat glo in stropery gebruik word, by hulle gehad. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit al voorheen tydens enige misdaad in Suid-Afrika gebruik is.
“Die twee mans, wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting binnekort in die Ubombo-landdroshof verskyn op aanklag van onwettige stropery en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.”
Moenie hulle doodskiet nie, sny hulle horings uit… Net ñ voorstel