Twee vroue is in Soweto in hegtenis geneem nadat hulle glo met ʼn gekaapte voertuig betrap is, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.
“Die vroue is Sondag in hegtenis geneem,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie het ʼn wenk van die gemeenskap ontvang dat ʼn voertuig, wat glo gekaap is, by ʼn huis in Moletsane opgemerk is.”
Volgens Makhubela het die voertuig in die motorhuis van ʼn huis wat aan een van die vroue behoort, gestaan. Die voertuig is glo Saterdag in Krugersdorp gekaap.
“Die vroue, onderskeidelik 40 en 51 jaar oud, sal Dinsdag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van ʼn gekaapte voertuig.”