Twee wat met Winnie verbind word se oorskot opgegrawe

Die begraafplaas in Soweto waar die twee mans se oorskot opgegrawe is. Die foto deur @lhsaan_Haffo op Twitter opgelaai is.

Die oorskot van twee mans is Dinsdag, 25 jaar na hulle glo die laaste keer saam met oudpresident Nelson Mandela se voormalige vrou Winnie Madikizela-Mandela gesien is, opgegrawe.

Forensiese ondersoekers het twee grafte in ʼn begraafplaas in Soweto uitgegrawe waar Corlett “Lolo” Sono (21) en Siboniso Anthony Shabalala (19) glo begrawe was. Sono en Shabalala het in 1988 vermis geraak en daar is later berig dat hulle die laaste keer by Madikizela-Mandela se huis in Soweto, Johannesburg gesien is. “Die oorskot sal na ʼn laboratorium geneem word waar DNS-toetse gedoen sal word om te bevestig of dit wel hulle oorskot is,” het Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê. Die twee mans was glo boodskappers vir die ANC se millitêre vleuel Umkhonto weSizwe. Louw sê die polisie ondersoek tans of Madikizela-Mandela by die twee mans se verdwyning betrokke was. “Ons moet wag vir die SAPD om die dossier aan ons te oorhandig en dan sal ons besluit of ons gaan vervolg of nie.”

Madikizela-Mandela het haarself in die 1980’s vereenselwig met ʼn groep genadelose lyfwagte genaamd Mandela United Football Club (MUFC). Die MUFC is met verskeie voorvalle van moord, aanranding en ontvoering verbind. Madikizela-Mandela is in 1991 daaraan skuldig bevind dat sy vier jong mans ontvoer en aangerand het. Sy is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis maar het appèl aangeteken en uiteindelik net ʼn boete betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.