Tweede egskeiding kos SA-miljardêr R34 miljoen

Elon Musk en Talulah Riley in gelukkiger dae

Elon Musk, miljardêr en eienaar van SpaceX, die privaat onderneming wat in Meimaand ‘n vuurpyl suksesvol na die internasionale ruimtestasie lanseer het, het R34 miljoen as skikkingsbedrag aan sy eksvrou uitbetaal.

Musk sal sy tweede vrou, die 26-jarige Britse aktrise, Talulah Riley, oor nege jaar afbetaal. Riley was slegs twee jaar lank met Musk, wat sowat R16 miljard besit, getroud.

Musk, ‘n ingenieur en uitvinder van Pretoria, het by die Universiteit van Pennsylvania studeer en het sy fortuin gemaak deur ‘n reeks suksesvolle ondernemings. Een van sy ondernemings, Zip2, wat inhoud aanlyn publiseer, is in 1999 vir sowat $340 miljoen verkoop. Ebay het Musk se PayPal, wat gebruik word om fondse aanlyn oor te dra en betalings mee te doen, in 2002 vir $1.2 miljard gekoop. Ná SpaceX se suksesvolle lanseerpoging in Meimaand, het hulle die kontrak gekry om vrag op ‘n gereelde basis na die internasionale ruimtestasie te vervoer. Dié kontrak is tussen $1.6 miljard en $3.1 miljard werd. Musk het boonop Tesla Motors gestig, ‘n maatskappy wat elektriese motors vervaardig en wat in 2010 ‘n aanvanklike openbare aanbod van $226 miljoen ontvang het.

Musk (41) se egskeiding van sy eerste vrou, Justine Musk, is in 2010 afgehandel. Justine is ‘n fantasieskrywer van Kanada en die ma van sy twee seuns.

Musk en Riley was vier jaar lank in ‘n verhouding. Hulle was vir twee jaar lank getroud, maar is na slegs 10 maande van bed en tafel geskei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.