Tweede kolonie van bedreigde vlinder opgespoor

Manlike Wolkberg Zoeloe-vlinder Foto: Steve Woodhall, The Southern African Bird Atlas Project 2 (http://sabap2.adu.org.za)

Suid-Afrikaanse skoenlapper-geesdriftiges is opgewonde nadat ʼn tweede kolonie van ʼn krities bedreigde Wolkberg Zoeloe-vlinders opgespoor is.

Die Wolkberg Zoeloe, of Alaena Margaritacea, is een van 14 krities bedreigde Suid-Afrikaanse skoenlapperspesies, het Beeld berig. Tot onlangs was die vermoede dat daar net ʼn klein kolonie van dié vlinders naby Haenertsburg in Limpopo was.

Die Skoenlappervereniging van Afrika het een persoon per bedreigde spesie aangewys om die insekte te monitor en in hul belang op te tree.

André Coetzer, die aangewese Wolkberg Zoeloe-kenner, het jare lank tevergeefs na ander kolonies van dié vlinder gesoek. Boonop was die bestaande kolonie se habitat bedreig deur omliggende plantasies en uitheemse bome. Coetzer het die nuus onder plaaslike inwoners versprei in die hoop dat iemand ʼn tweede kolonie sou opmerk. Vroeg in Januarie het Sylvie Kremer-Kohne, ʼn plantkundige, vir hom ʼn foto van ʼn wyfie- Wolkberg Zoeloe-vlinder gestuur. Coetzer het, met Kremer-Kohne se hulp, twee dae later die ligging van die tweede kolonie, sowat 10km ver van die eerste kolonie, bepaal.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.