Tweede onkoloog bedank glo oor “stukkende” masjiene

Varian Rapidarc Linear Accelerator-masjien

‘n Tweede top onkoloog het glo bedank weens die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal se onvermoë om twee wêreldgehalte-radioterapiemasjiene in stand te hou by die Addington-hospitaal in Durban.

Prof. Amo Jordaan, wat sedert 1980 die hospitaal se onkologiedepartement bestuur het, het aan die einde van 2012 bedank. Hy was een van die persone wat die Varian Rapidarc Linear Accelerator-masjiene vir die hospitaal aangeskaf het. SAPA het inligting ontvang dat dr. Neil Narsai ook bedank het en aan die einde van Mei by ‘n privaatpraktyk aangesluit het.

Narsai kon nie vir kommentaar bereik word nie, maar Jordaan het bevestig dat hy daarvan bewus is dat Narsai bedank het. “Hy was baie goed met sy werk. Hy het stil en baie hard gewerk. Die departement sal hom en sy insette mis,” het Jordaan gesê.

Die departement het glo aan die begin van verlede jaar nie meer die instandhoudingskontrak vir die masjiene betaal nie en die maatskappy Tecmed het vir ‘n verdere nege maande lank volgehou om die masjiene te diens, ondanks die feit dat hulle nie betaling daarvoor ontvang het nie.

Die masjiene wou in Januarie vanjaar nie meer werk nie. Die instandhoudingskontrak was deel van die R120 miljoen tender wat in 2009 uitgeloof is. Die departement het aangevoer dat dié tenderproses korrup was.

‘n Radioterapeut het glo ook bedank.

Jordaan beraam dat die twee onkologiedepartemente by Addington-hospitaal en Inkosi Albert Luthuli-hospitaal jaarliks sowat 400 nuwe kankerpasiënte kry. Daar is nou slegs vier onkoloë en nege studentedokters om dié werkslading te hanteer.

Sapa het bevestig dat twee sake in Mei en Julie 2010 deur die departement by die Anti-korrupsie taakspan aanhangig gemaak is. Paul Ramaloko, woordvoerder vir die Valke, kon nie besonderhede oor die sake bekendmaak nie, maar het bevestig dat “bedrog, korrupsie en omseiling van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur” ondersoek word. Die ondersoek nader glo sy einde.

‘n Aantal oproepe en e-posse na die departement van gesondheid tussen vroeg April en Mei is onbeantwoord gelaat. Sam Mkhwanazi, woordvoerder van die departement, het Vrydag bevestig dat hulle vrae ontvang het.

Tecmed ontken enige onreëlmatigheid. “Daar was ‘n groot openingseremonie gereël toe die toerusting installeer is,” het Werner Begere, hoof uitvoerende beampte van die maatskappy, gesê. Die maatskappy is kort daarna gevra of hy die instandhoudingskontrak goedkoper kon aanbied. “Ons het hulle reeds afslag gegee. Hulle het 16 maande lank sonder klagtes betaal en toe skielik ophou betaal.”

Begere sê die maatskappy het briewe geskryf en herhaaldelike telefoonoproepe gemaak in ‘n poging om vas te stel waarom betaling nie ontvang is nie. “Hulle het ons ignoreer,” het hy gesê. Hy sê die departement het toe glo ‘n “derdeparty-verskaffer” genader om die masjiene te diens. “Die verskaffer het ons toe genader vir opleiding.” Volgense Begere het die departement ook die internasionale verskaffer, Varian, genader om die masjiene te diens. “Dit maak nie sin nie. Hulle kan die ondersoek doen, maar jy kan nie betaling stop weens ‘n ondersoek wat moontlik niks kan bewys nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.