ʼn Tweede verdagte is in hegtenis geneem is verband met die moord op ʼn gesin in Walkerville, suid van Johannesburg.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt. Kol. Lungelo Dlamini, sê die tweede verdagte is Woensdag op ʼn kleinhoewe in die omgewing in hegtenis geneem nadat daar ʼn skootrekenaar, halssnoer en kamera, wat aan die gesin behoort het, in sy besit gevind is. Die eerste verdagte, wat glo die gesin se huiswerker se seun is, is Maandag in hegtenis geneem. Tony Viana (50) se lyk is in die sitkamer gevind met sy hande wat agter sy rug vasgemaak was. Sy vrou, Geraldine (46), se lyk is in die slaapkamer gevind. Sy is glo verkrag voor sy doodgeskiet is. Die paartjie se 13-jarige seun se lyk is in die bad gevind. Sy hande was ook agter sy rug vasgemaak. Die polisie vermoed hulle is Saterdagaand vermoor. Die polisie het intussen gesê ʼn e-pos wat die ronde doen dat die gesin gemartel is voor hulle vermoor is, is vals. Die twee verdagtes sal Vrydag in die Vereeniging landdroshof verskyn op drie aanklagte van moord, verkragting, diefstal en roof.