Tweejarige sterf ná gedokterde drankie

‘n Kleuter van Umlazi in Durban is die naweek dood nadat hy alkohol, wat met dwelmmiddels gedokter is, ingekry het.

Phiwokuhle Mthethwa (2) is glo saam met sy 20-jarige ma na ‘n partytjie, het Ncumisa Fandesi, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, gesê. “Die ma was glo dronk en het nie opgelet dat ‘n man haar seun die gedokterde drankie ingee nie,” het Fandesi gesê.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ons wag nog op die uitslag van ‘n nadoodse ondersoek,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder vir die polisie, gesê. “Ons kan ook nie in hierdie stadium bekend maak wie die verdagtes is nie, aangesien die ondersoek voortduur.”

Weziwe Thusi, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal, het die kleuter se afsterwe as skokkend beskryf. “Dit is nog ‘n voorbeeld waarom ons gemeenskappe die stryd teen dwelmmiddels moet aansê voordat dit ons gemeenskappe heeltemal vernietig,” het sy gesê. “Ek verstaan nie wat ‘n tweejarige by ‘n partytjie gemaak het waar alkohol bedien is nie.”

Thusi doen ‘n beroep op ouers en inwoners om hul kinders teen alkohol en dwelmmiddels te beskerm. “’n Tweejarige is van sy lewe beroof en iemand moet daarvoor boet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.