ʼn Tweeling van die Oos-Kaap word sedert Dinsdag vermis.
Kapt. Andre Beetge, ʼn polisiewoordvoerder, sê die twee seuns is Dinsdag omstreeks 14:00 vir die laaste keer deur hul oom in Motherwell in Port Elizabeth gesien. “Jeft en Shem Makubalo (11) het in ʼn veld in Komancistraat in NU12 gespeel toe hulle die laaste keer gesien is. Hulle het grys broeke en blou denimbaadjies aangehad,” het Beetge gesê.
ʼn Foto van die vermiste tweeling is nog nie uitgereik nie. Die polisie versoek dat enigiemand met inligting met die polisie in verbinding sal tree deur 10111 te skakel.