Tweeling vir egpaar wat drieling verloor het

Martin en Jane Weekes

Die ouers van ʼn drieling van Nieu-Seeland wat verlede jaar in ʼn brand by ʼn winkelsentrum in Qatar omgekom het, het Donderdag aangekondig hulle het pas ʼn tweeling gehad.

Martin en Jane Weekes se drieling, Lillie, Jackson en Willsher is in Mei 2012 verkool toe ʼn brand by Doha’s Villagio Mall uitgebreek het. Hulle was twee jaar oud. Altesaam 19 mense het in die brand omgekom, insluitend 13 kinders wat by ʼn kindersorgsentrum gehou is.

Martin sê die tweeling, ʼn dogtertjie genaamd Poppy en ʼn seuntjie genaamd Parker, is Woensdagoggend deur middel van ʼn keisersnee in Auckland gebore. Die egpaar het na Auckland verhuis ná die tragedie.

Volgens Martin is ma en babas, wat op 36 weke gebore is, gesond. “Dit is voorwaar ʼn verligting dat hulle gesond en sonder probleme gebore is, omdat mens maar altyd bekommerd is,” het hy aan die Dominion Post gesê. “Ek reken veral nadat ons Lillie, Jackson en Willsher verloor het.”

Jane het met behulp van in vitro-bevrugting swanger geraak met die tweeling.

Vyf mense is in Junie in Qatar tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir nalatigheid oor die brand wat langs die ongelisensieerde Gympanzee-kleuterskool uitgebreek het en op ʼn elektriese fout blameer is.

‘n Gedenkblad is vir die drieling op Facebook gepubliseer.
-SAPA

Martin Weekes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.