Die kletsblad, Twitter, het vandag amptelik op die New Yorkse aandelebeurs noteer en boverwagte openingspryse behaal.
Skaars 90 minute nadat Dick Costolo, die uitvoerende hoof van Twitter, die notering van Twitter op die New Yorkse aandelebeurs op die tradisionele manier deur die lui van ’n klok geopen het, het die kletsblad se aandeelprys blitsig tot meer as $50 per aandeel opgeskiet.
Twitter se aandele is gisteraand op $26 geprys en het ’n openingsprys van $45.10 per aandeel behaal. Hierdeur het Twitter die derde grootste aanvanklike openbare aanbod (IPO) sedert die notering van Facebook in Mei vanjaar bereik.
Twitter het die afgelope tyd goeie groei getoon en sy omset verdubbel, maar is steeds nog nie winsgewend nie.