Danksy Twitter is ʼn Jack Russell-hondjie Woensdag ná ʼn “pretrit” op ʼn trein weer met sy eienaar herenig.
Patch, die hondjie, het Dinsdagaand in Kilcock, sowat 30 km wes van Dublin in Ierland, vermis geraak. Sy eienaar, Deirdre Anglin, het dadelik op sosialemedia-platforms ʼn foto van Patch uitgestuur in die hoop om haar troeteldier weer op te spoor.
Irish Rail het op hul beurt Woensdagoggend, omstreeks 07:00, ʼn foto van die hondjie, wat hulle “Checker” gedoop het, uitgestuur, nadat hulle besef het die hondjie is sonder ʼn eienaar op die trein. Binne 32 minute is dié tweet sowat 500 keer uitgestuur, en het dit uiteindelik Anglin bereik. Sy het dadelik op Twitter aan Irish Rail reageer, “Dis my hondjie daai!”
Patch was sowat ʼn uur van sy huis af weg saam met die pendelaars op die trein.
Die spoorwegwerkers het die hondjie glo “Checker” gedoop, aangesien hulle tong-in-die-kies gewonder het of hy daar is om reiskaartjies na te sien. Hulle het hom in die veilige hande van die personeel by Pearsestraat-stasie in Dublin afgelaai.
Barry Kenny, woordvoerder van Irish Rail, sê Twitter is die ideale platform om ʼn landswye beroep te doen op mense om ʼn verlore hondjie op te spoor. “Sommige van ons personeel is egter spyt dat dit so goed uitgewerk het. Hulle het geheg geraak aan hom!” het hy bygevoeg.
Klik hier om Deirdre Anglin se tweets te volg.
Klik hier om Irish Rail se tweets te volg.