Twitter kan inhoud blok

Twitter het Donderdag gesê dat hulle nou die vermoë het om te verhoed dat sekere tweets in spesifieke lande vertoon word, indien hulle wetlik verplig word om dit te doen.

“Aangesien ons internasionaal groei sal ons soms lande teëkom wat verskillende persepsies oor vryheid van spraak het,” het Twitter in ʼn blog-artikel gesê. “Sommige idees verskil so baie van ons sʼn dat dit nie vir ons moontlik sal wees om daar te bly bestaan nie,” het die San Francisco-gebaseerde maatskappy glo gesê. “Sommige lande stem hoofsaaklik ooreen, maar vir geskiedkundige of kulturele redes wil hulle spesifieke tipes inhoud verbied, byvoorbeeld Frankryk of Duitsland wat pro-Nazi-inhoud verbied,” het Twitter gesê. Indien hulle vroeër boodskappe moes verwyder, kon hulle dit glo slegs wêreldwyd doen. “Van vandag af kan ons inhoud van gebruikers in ʼn spesifieke land weerhou – terwyl dit steeds beskikbaar in die res van die wêreld sal wees,” het Twitter gesê. “Ons het nog nie van hierdie funksie gebruik gemaak nie, en wanneer ons ʼn tweet van ʼn spesifieke land moet weerhou, sal ons poog om die gebruiker in kennis te stel, en ons sal duidelik aandui dat die inhoud weerhou is.” Twitter sê hulle sal besonderhede van enige voorval waar inhoud teruggetrek is op ChillingEffects.org publiseer. “Een van ons kernwaardes as ʼn maatskappy is om elke gebruiker se stem te verdedig en te respekteer. Ons sal probeer om inhoud so ver as moontlik beskikbaar te hou en ons sal deursigtig wees wanneer ons nie kan nie.” Sjina is tans een van die lande wat Twitter blok, en stigter Jack Dorsey het dié situasie onlangs as “ongelukkig en teleurstellend” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.