Twitter ondervind tegniese probleme

Miljoene mense wêreldwyd kon Donderdagmiddag nie hul 140-karakter stuiwer in die armbeurs gooi nie, weens ‘n tegniese probleem by die sosiale netwerk, Twitter.

“Gebruikers mag ‘n probleem ondervind om toegang tot Twitter te bekom. Ons ingenieurs werk aan die probleem,” het ‘n kort boodskap op hul webwerf gesê. Gewoonlik verskyn ‘n prentjie van ‘n walvis op ‘n gebruiker se skerm wanneer Twitter tegniese probleme ondervind, maar Donderdag het ‘n boodskap aangekondig: “Twitter is tans af weens <%= rede %>. Ons verwag om <%= spertyd %> aanlyn te wees. Vir meer inligting, besoek Twitter Status. Dankie vir jou geduld!”

Rachel Bremmer, woordvoerder vir Twitter het gesê hulle is bewus van die probleem en dat hulle tans dit probeer oplos, maar sy het nie verder oor die aard van die probleem uitgebrei nie.

Intussen het Twitter-gebruikers hulle na Facebook gewend om hul frustrasie te deel. Justin Cohen het geskryf: “Twitter is af. Hoe gaan enigiemand oorleef sonder om te weet wat Kim Kardashian vir middagete gehad het?” Abbz Sellors het geskryf: “Twitter is af en ek wil graag daaroor tweet :(.”

Twitter is egter nie die enigste aanlyndiens wat vandag ‘n probleem ondervind het nie. Google het ook aangekondig dat sy kletsdiens, Google Talk, af is, maar die probleem is intussen opgelos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.