“Uit met rasseteikens, in met opleiding en ontwikkeling,” sê Solidariteit

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

ʼn Alternatiewe, insetgebaseerde model vir regstellende aksie wat fokus op opleiding en ontwikkeling is vandag deur  dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, bekendgestel. Dié nuwe model is vervat in Hermann se nuutste boek getiteld Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie (uitgegee deur Kraal Uitgewers).

Volgens Hermann is die model van regstellende aksie wat tans in Suid-Afrika gebruik word ʼn uitsetgebaseerde model wat op rasseteikens fokus.

Die bekendstelling van die alternatiewe model sowel as die boek is vandag op die sogenaamde onvoltooide brug (oftewel die onvoltooide deel van die Helen Suzman-deurpad) in Kaapstad gedoen. Die rede hiervoor, verduidelik Hermann, is om te simboliseer hoe Suid-Afrika se verhaal van regstellende aksie nog nie klaar geskryf is nie. Volgens Hermann sal hierdie alternatiewe model ʼn meer positiewe toekoms vir alle Suid-Afrikaners kan inhou, mits die regering die model as ʼn opsie oorweeg.

Hermann se alternatiewe model word in sy boek aan die hand van 17 temas teenoor die huidige Suid-Afrikaanse model van regstellende aksie geplaas. (ʼn Volledige uiteensetting van die twee modelle sowel as ’n opsomming daarvan is aangeheg.)

“Die alternatiewe model van regstellende aksie benadruk die opleiding en ontwikkeling van die aangewese groep,” verduidelik Hermann. “In hierdie model word daar doelbewus wegbeweeg van die absolute klem op rasseverteenwoordiging, en die fokus verskuif van mense se ras na mense se sosio-ekonomiese omstandighede. Hiermee word die rasse-angel uit regstellende aksie getrek, ofskoon die meerderheid mense wat gehelp word steeds uit die aangewese groep sal wees.”

“Omdat regstellende aksie se sukses in hierdie model nie met betrekking tot wit mense gemeet word nie, kan baie meer mense bevoordeel word. Die Wet op Gelyke Indiensneming en die vaardigheidsontwikkelingswette sou dan dienooreenkomstig gewysing moet word en maatskappye moet eerder aan opleidingsteikens as aan rasseteikens gemeet word.”

Volgens Hermann se model word die nodige mensekapitaal geskep sodat mense die beskikbare geleenthede kan benut. Hy beklemtoon dat dié vaardighede en mensekapitaal ʼn positiewe inset vir die ekonomie sal wees wat tot almal se voordeel sal strek. “Die ekonomiese koek word dus groter sodat almal kan aansit,” sê Hermann. “Dié model sal voorts ook tot groter beleggersvertroue lei en Suid-Afrikaners sal leer om nie van die stelsel afhanklik te raak nie, maar om eerder verantwoordelikheid vir hul eie lewens te aanvaar.”

In teenstelling met die huidige model van regstellende aksie waarvolgens die nasionale rassedemografie van die land op alle vlakke nagejaag word, plaas die alternatiewe model klem op ʼn meer genuanseerde benadering waarin die demografie van plaaslike gemeenskappe in ag geneem word. Hierdie model sal help toesien dat mense uit die nie-aangewese groepe se reg op gelykheid en waardigheid steeds in ag geneem word sodat hulle nie vervreem word nie. Daarbenewens sal ʼn kultuur geskep moet word waarin daar gepoog word om die spanning rondom regstellende aksie deur sosiale dialoog op te los voordat die howe genader word.

Die bekendstelling van hierdie boek en die alternatiewe model vir regstellende aksie kom te midde van ʼn vuurwarm hofsaak oor die toepassing van regstellende aksie in die Wes-Kaap se departement van korrektiewe dienste. Solidariteit hanteer dié saak namens tien bruin werknemers van die departement wat weens die toepassing van regstellende aksie telkens bevordering geweier is. Die saak is gister (Maandag 29 Julie) in die arbeidshof hervat en sal waarskynlik tot aanstaande week voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae