Uitenhage-gesin beroof; man voor sy dogter doodgesteek

Die polisie in Uitenhage is op soek na twee mans wat ʼn gesin Vrydagmiddag aangehou en beroof het.

Die gesin is van onder andere Krugerrande, ou Suid-Afrikaanse valuta, juwele, en skootrekenaars ter waarde van R537 000 beroof. Lt.kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, sê die mans het by die huis in Fairbridge ingebreek toe ʼn vrou op hul klop oopgemaak het. Hulle het die gesin met vuurwapens aangehou.

“Die gesin is aangesê om op die vloer te lê terwyl hulle die huis deursoek het,” het sy gesê. Die mans het Krugerrande ter waarde van R500 000, ou Suid-Afrikaanse geld ter waarde van R30 000, juwele, skootrekenaars en ander huishoudelike items gesteel.

“Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om nie hierdie items te koop nie. As hulle daarmee betrap word, kan hulle aangekla word van die ontvangs en aankoop van gesteelde goedere,” het Naidu bygevoeg.

Intussen is Johannes Mlanyavi (56) Saterdagoggend in Uitenhage voor sy dogter met ʼn skerp voorwerp doodgesteek. Mlanyavi en sy 21-jarige dogter het omstreeks 10:30 naby die vliegveld tussen Kwanobuhle en Uitenhage gestap toe twee mans hulle genader het. “Hulle is met ʼn mes gedreig en die verdagtes het geld en hul selfone geëis,” het Naidu gesê. “Mlanyavi het sy beursie met R200 oorhandig en hy wou sy selfoon aan hulle gee toe een verdagte hom begin aanrand en steek.”

Die mans het Mlanyavi se dogter se selfoon gegryp en weggehardloop. Mlanyavi is in die kop, arm en bors gesteek en het inmekaargesak en gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wena catherina Coetzee ·

Dit wys jou weereens , kleur speel nie n rol nie as hulle wil moor en roof dan doen hulle dit………….. Selfs hul eie mense loop deur………Uitvaagsels van die aardbol……..wens mens kon hul met een veeg weggevee het van die aardbol af…………….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.