“Uitgestorwe” dolfynsoort leef toe nog

Foto: Thinstock

Die karkasse van ‘n wyfiedolfyn en haar kalf wat aan die kus van Nieu-Seeland gekry is, is geïdentifiseer as die oorblyfsels van ‘n dolfynsoort wat moontlik as uitgesterf beskou is. Tot dusver is nog slegs die gebeentes van dié soort, Mesoplodon traversii, gevind, en is in 1872 aan die hand van beenreste geïdentifiseer. Dit behoort tot die groep bekend as spitsneusdolfyne, en die Engelse noemnaam daarvan is spade-toothed whale.

Die jongste vondste was die eerstes waaraan nog vleis was.

Die moederdolfyn was 5,3 meter lank, en die bulkalf 3,5 meter. Hul karkasse is in Desember 2010 by die Bay of Plenty gevind, maar die wetenskaplike artikel hieroor het eers nou in die 6 November-uitgawe van Current Biology verskyn. Aanvanklik is gemeen dat dit die karkasse van ‘n ander walvissoort was.

Omdat geen lewende voorbeeld nog gesien is nie, word bloot vermoed dat die spesie se gedrag met dié van ander spitsneuse ooreenstem. Hulle woon vermoedelik diep in die Stille Oseaan en leef van seekatagtiges en klein visse. Hulle word as die skaarste spesie van die walvisagtiges beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.