Uitkenningsparade vir 13-jaaroue moordsaak

Die plek waar Betty Ketani moontlik aanvanklik begrawe is Foto: EWN

Die polisie hoop dat twee mans wat glo 13 jaar gelede ontvoer en gemartel is, hulle aanvallers Woensdag in ʼn uitkenningsparade sal kan identifiseer.

Die mans is glo deur dieselfde bende ontvoer wat Betty Ketani vermoor het, het EWN Dinsdag berig. Ketani se 13-jaaroue moordsaak is moontlik opgelos nadat ʼn erkentenisbrief in ʼn huis in Kenilworth, Johannesburg, opgespoor is. Vyf mans, insluitend twee polisiebeamptes is vroeër die maand in hegtenis geneem en sal Vrydag hul borgaansoek indien.

Die span wat Ketani se moord ondersoek hoop dat ʼn uitkenningsparade hul saak teen haar vermeende moordenaars sal versterk. Die erkentenisbrief, wat besonderhede oor Ketani se moord verskaf, bevat ook besonderhede van twee mans wat ontvoer is. Een van die mans is op drie afsonderlike geleenthede ontvoer.

Die polisie kon die twee mans opspoor en is vol verwagting dat hulle belangrike getuies in die saak sal wees. Alhoewel die twee mans ʼn kriminele saak aanhangig gemaak het, was daar geen leidrade nie en het die ondersoek ʼn dooiepunt bereik.

Die staat sal Vrydag die borg teenstaan en die media sal moontlik hierna die verdagtes se name bekend kan maak. Na verwagting sal nog mense in hegtenis geneem word in verband met die ontvoering en moord.

Die eienaar van die huis was besig om nuwe matte in te sit toe hy op die briewe afgekom het. “Ons was gefassineer en het net daar bly staan. Ons het gesweet, en ek het gesê: “Moenie sweet op die papier drup nie, ons kan dit beskadig.” Die eienaar het die inligting aan die polisie oorhandig, wat weke lank met die saak gestoei het totdat hulle uiteindelik op die verdagtes toegeslaan het.

Na bewering het die bende Ketani vermoor en haar agter in die erf begrawe waar die brief opgespoor is. Die bende moes later weer die beton uitbreek om Ketani se liggaam elders te begrawe. Dit blyk ook dat hulle vroeër probeer het om haar te vermoor, maar daarin misluk het. Sy is in die hospitaal opgeneem en hulle het mediese dokumente vervals om haar uit die hospitaal te ontvoer en die taak af te handel.

Die brief is twee maande gelede aan owerhede oorhandig, en die verdagtes is in Meimaand vasgetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.