Uitnodiging aan DA-jeug: “Kom kuier in Orania”

Die Orania Beweging het ‘n uitnodiging aan die DA-jeugliga gerig om Orania te besoek ten einde hulself “beter van die betekenis van selfbeskikking te vergewis”.

Dit volg nadat Kleinfontein, ‘n Afrikaner-nedersetting buite Pretoria, gister dié jeugvleuel genooi het vir “melktert, koeksisters en om ‘n bietjie jukskei te leer speel,” aldus Jan Groenewald, voorsitter van Kleinfontein se direksie.

Volgens Jaco Kleynhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, het die president van die ANC, Jacob Zuma, en die geskorsde leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, al Orania in die verlede besoek. Die Orania Beweging is ‘n organisasie met meer as 3 000 lede wat “selfbeskikking vir die Afrikaner in die Noordwes-Kaap bevorder”.

“Dit is dit duidelik uit die onlangse kommentaar van die leier van die DA-jeugliga, Mbali Ntuli, dat hulle nie ‘n goeie begrip van selfbeskikking vir kultuurgroepe het nie,” het Kleynhans gesê. Hy het reageer op Ntuli se opmerking tydens haar toespraak by Kleinfontein dat die liga “teen diegene is wat apartheid wil terugbring”.

“Indien jy vir die Franstaliges in Quebec, Kanada, die Duitssprekendes in die suid-ooste van België, die Suid-Tirolers in die noorde van Italië, die Vlaminge in die noorde van België of die Katalone in die noorde van Spanje moet sê dat hulle rassiste is omdat hulle na selfbeskikking strewe, sal jy vinnig vertel word dat hulle ‘n internasionaal aanvaarde reg op selfbeskikking het,” het Kleynhans gesê. “Die DA-Jeug moet dus ook begin begryp dat die Afrikaner dieselfde reg het. ‘n Groep van 12 Oraniërs het onlangs 5 Europese lande op ‘n skakeltoer besoek en die boodskap was oral dat selfbeskikking vir kultuurgroepe in die toekoms net gaan toeneem.”

Maroela Media het die DA-jeugliga genader vir kommentaar en wag nog vir terugvoer om te hoor of hulle die uitnodiging gaan aanvaar al dan nie.

Lees ook:
Kleinfontein sê afsondering gaan nie oor ras
Foto’s: DA-jeugliga besoek Kleinfontein
Nuuskommentaar: Kleinfontein, groot bohaai
Kleinfontein nooi DA-jeugleier vir koffie en melktert
Slegs Afrikaners hiér welkom

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.