Uitsaaier beboet oor kaal man

MultiChoice is met R10 000 beboet weens ’n onaanvaarbare ouderdomsperk vir ’n DStv-program waarin ’n kaal man gewys is, het die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) gesê.

’n Kyker het by UKKSA gekla dat ’n nabyskoot van manlike geslagsdele gewys is tydens ’n episode van ‘n komediereeks met ’n OL13-klassifikasie. Die program Benzai, wat op Sony Max op kanaal 126 uitgesaai word, het vyf mans gewys wat net in noupassende onderbroeke was, en kykers gevra wie is die beste bedeeld. Die wenner se geslagsorgaan is toe sowat vyf sekondes lank gewys. Benjamin van Staden het gesê: “Gelukkig het ons geen kinders nie, maar as ons gehad het, watter nut sou die OL13 gehad het? Ek voel dit is onaanvaarbaar om tonele soos die te wys waar meeste mense toegang daartoe het.” Die episode is in Januarie uitgesaai. MultiChoice het tydens ’n verhoor voor die UKKSA toegegee die klassifikasie moes 16 gewees het en gesê ’n buitelandse kanaal het die program geklassifiseer. Multichoice het verantwoordelikheid aanvaar vir die fout. Die uitsaaier het aangevoer die program is om 21:30 uitgesaai en dit is onwaarskynlik dat baie kinders dié tyd van die dag sou televisie kyk. Die toneel was vlietend en die naaktheid was nie van ’n seksuele aard nie, maar binne die konteks van ’n kompetisie, het die uitsaaier gesê.UKKSA het gesê omdat dit op ’n Vrydagaand was, kon daar kinders wees wat gekyk het. “Die nabyskoot van die volle vooraansig ‘reg voor jou neus’ penis, was aanstootlik vir kykers, selfs dié met oop gemoedere wat gebalanseerd en nie oorsensitief is nie.” Multichoice moet die boete voor of op 15 Mei betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

nico ·

is daar enige manier dat n mens die program erens kan weer kan sien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.