Die uitsetting van Ekurhuleni metropolisiebeamptes van hul kantoor by OR Tambo Internasionale Lughawe is glo weens ‘n “misverstand”.
“Daar was ‘n kommunikasiegaping wat tot ‘n misverstand gelei het. Dít het veroorsaak dat die kantore van die metropolisiedepartement by die lughawe Vrydag gesluit is,” het Zweli Dlamini, woordvoerder vir die burgemeester gesê.
Die Saturday Star het berig dat die metropolisie Vrydag uitgesluit is nadat hulle glo vir ‘n jaar lank nie hul huur betaal het nie. Die grasieperiode ná die finale kennisgewing wat die Lughawensmaatskappy (Acsa) uitgereik het, het Vrydag verstryk.
Dlamini sê die munisipaliteit werk dringend daaraan om die metropolisie in hul poste by die lughawe te herstel, maar ontken dat daar enige onderbreking in wetstoepassingsdienste sal wees.