Uitsettings skok Pelgrimsrus-gemeenskap

Foto: www.pilgrimsrest.com

Inwoners van die geskiedkundige Pelgrimsrus is in skok nadat die regering 17 winkelhuurders opdrag gegee het om hul persele te verlaat.

Die departement van openbare werke in Mpumalanga het 17 van die 21 huurders uitgeskop nadat nuwe tenders vir okkupasie aanvaar is. Die geboue in die dorp behoort aan die departement. ʼn Woordvoerder van die departement, David Nkambule, sê winkelhuurders is betyds in kennis gestel rakende die verval van hul huurkontrakte. “Die departement het die verhuring van die geboue adverteer op ʼn tenderbulletin in Oktober verlede jaar en die sluitingsdatum was November. Die huurkontrakte wat op tender was, het verstryk.” Luidens die uitsettingsbevele moet al die ondernemings binne 30 dae die persele verlaat. Van die winkelhuurders voer aan dat die departement nie op hul aansoeke reageer het nie. Volgens berigte het een van die tenderaars vyf van die nuwe kontrakte gekry. Drie ondernemings, die Royal Hotel en die polisiekantoor word nie geraak nie.

Die Vryheidsfront Plus sê intussen hy sal die openbare beskermer, Thuli Madonsela, versoek om ondersoek in te stel oor of die korrekte prosedures gevolg is met die toeken van die tenders. “Van die winkelhuurders is glo deur amptenare gedreig dat hulle verwyder sal word indien hulle nie teen die einde van die maand die persele verlaat nie,” sê Anton Alberts, woordvoerder vir die party. Die uitsettings sal na verwagting verskeie werksverliese tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.