Uitskot by Sanlam-hoofkantoor uitgegooi

sanlamDrie mense, vermoedelik lede van die Economic Freedom Fighters (EFF), is in hegtenis geneem nadat betogers Vrydag menslike ontlasting by Sanlam se hoofkantoor in Bellville, Kaapstad, uitgegooi het.

“ʼn Groep van 20 tot 30 mense, met rooi barette wat beweer het dat hulle lede is van EFF, het omstreeks 10:30 by ons ontvangs vergader,” het Ainsley Moos, woordvoerder van Sanlam, gesê.

Die groep het bande en houers vol uitskot by die ontvangs neergesit. Personeellede het die polisie ontbied. Daar was ʼn onderonsie tussen die betogers en lede van die polisie toe hulle die houers wou uitgooi.

“Die polisie het aan die groep gesê hulle betoging is onwettig,” het kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle is gevra om die gebied te verlaat. Hulle het begin om die uitskot op die grond uit te gooi en het dit ook na die Sanlam-gebou toe gegooi.”

Twee mense is in hegtenis geneem.

“Een betoger het ʼn polisiebeampte aangeval en probeer om die aangekeerdes uit die polisievoertuig te red. Dié persoon is ook in hegtenis geneem en word aangehou op aanklag van aanranding van ʼn polisiebeampte.”

Die drie sal binnekort in die hof verskyn.

Van Wyk sê drie houers met menslike ontlasting is na die polisiestasie geneem.

Moos sê die betoging hou glo verband met iemand wat vir Sanlam se arbeidsmakelaar gewerk het, maar onlangs ontslaan is.

Kaapstad is die afgelope paar maande deur ʼn aantal soortgelyke voorvalle geteister. Meeste van die vorige sake hou verband met betogings oor sanitasie in informele nedersettings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Demokraat ·

Betogers en ander leeglêers, word sagkens deur die Owerhede hanteer as gevolg van die talryke menseregte-wette wat ter beskerming van diesulkes bestaan en wat hulle toelaat om bykans te maak net wat hulle wil. Wat staan die nugtere en wetsgehoorsame inwoner van die land te doen wanneer hy getreiter word deur barbare en vandaliste ?

Erich Goosen ·

Ek dink die EFF moet die kleur van hul barette na kapoen verander. Is dit hul belangrikste nalatenskap aan die publiek van SA? Ek dink die hof moet hul gemeenskapsdiens by ‘n rioolplaas laat verrig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.