Uitspraak gelewer in Basson-saak

Wouter Basson tydens die begin van sy verhoor Maandag by die Raad op Gesondheidsberoepe. Foto: SAPA

Wouter Basson tydens die begin van sy verhoor Maandag by die Raad op Gesondheidsberoepe. Foto: SAPA

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) het Woensdag uitspraak gelewer oor die beweerde onetiese optrede deur die biologiese oorlogskenner, dr. Wouter Basson.

“Die respondent word skuldig bevind aan onprofessionele gedrag,” het prof. Jannie Hugo, voorsitter van die professionelegedragskomitee van die RGB, in Pretoria gesê.

Basson het nege argumente ingedien tydens ʼn ondersoek oor sy optrede waarin hy aangevoer het dat hy as ʼn soldaat, en nie ʼn dokter nie, opgetree het. Hy was ook nie bewus van die etiek nie.

Hugo het gesê Basson het internasionale protokol oortree kragtens die Geneva-verklaring van 1948 en die Verenigde Nasies se konvensie oor die verbod op en opgaring van gevaarlike wapens. “Die respondent het etiek van ʼn dokter verwar met dié van ʼn soldaat terwyl hy sy pligte uitgevoer het. ʼn Dokter kan nie op militêre bevele staatmaak om die gevolge van sy pligte te ontduik nie.”

Volgens Hugo moet ʼn dokter, wat besluit om sy mediese kennis en vaardighede aan te wend en gevolglik mediese etiek oortree, deregistreer as ʼn mediese praktisyn.

Die ses jaar lange verhoor hou verband met Basson se betrokkenheid by Projek Coast tussen die 1980s en vroeë 1990s.

Basson is daarvan beskuldig dat hy etiese gedragskodes oortree het deur traangas vir oorlogvoering en dwelmmiddels vir ontvoerings ontwikkel het. Hy is ook beskuldig dat hy oneties opgetree het deur Mandrax, kokaïen en traangas te vervaardig wat aan Jonas Savimbi, Unita-leier van Angola, verskaf is.

Basson sal op 20 en 21 Februarie 2014 gevonnis word.

Die RGB het Vrydag ʼn skrywe ontvang dat Basson nie die verhoor sal kan bywoon nie weens ʼn mediese konferensie wat hy oorsee moet bywoon, en daar was ʼn misverstand met vlugbesprekings.

Jaap Cilliers SC, vir Basson, het aangedui ʼn afskrif van die uitspraak sal aan Basson gestuur word.

Lees ook:
Wouter Basson: Uitspraak verwag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eben ·

Jaaaa Jannie Hugo en so bly julle knef-knef agter Dr Basson. Almal vergeet dat dit oorlog was en hy daarvolgengs opgetree het. Waar is die manne wat die opdragte gegee het? Kan mens nie op n staduim kom en alles toezip en aan gaan met die lewe? Wat wil julle betrek ?

Eksenet ·

‘n Bomplanter en terroris word verafgod, deur die hele wereld, maar ‘n persoon wie in ‘n regte oorlog situasie opgetree het, moet gestraf word. Dit is net eenvoudig PATETIES!!!!!

Sarie ·

As hy van die rol geskrap word is SA ‘n briljante hartchirug armer

Adriaan Theron ·

Hierdie is pateties. Ek dink die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) poep vir punte by die regering. Ek dink hulle moet hul viktimisasie van dr Basson staak en hulle-self besig hou met iets wat die moeite werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.