Uitspraak ná regter se moord

Die foto's word op Twitter versprei en skert met die byskrif, "Hoe die magtige Maqubela geval het". Foto: @DaBrownNative / Twitter

Die foto’s word op Twitter versprei en skert met die byskrif, “Hoe die magtige Maqubela geval het”. Foto: @DaBrownNative / Twitter

Uitspraak is Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer in die saak van Thandi Maqubela wat daarvan beskuldig is dat sy haar man, waarnemende regter Patrick Maqubela in sy huis in Seepunt, Kaapstad, vermoor het.

Maqubela is skuldig bevind aan die moord van haar man en op aanklag dat sy haar man se testament vervals en bedrog gepleeg het, aangesien sy die boedel moontlik benadeel het.

Regter John Murphy het bevind dat Maqubela die waarnemende regter vermoor het nadat hy dit duidelik gemaak het dat hy van haar wil skei. Sy is skuldig bevind ondanks die feit dat daar nie onweerlegbaar medies bewys kan word wat die oorsaak van sy dood was nie. “Daar bestaan bloot ʼn moontlikheid dat hy versmoor is nadat hy vasgepen of moontlik bedwelm is,” het Murphy gesê.

Die bewys van die presiese oorsaak van dood is egter nie ʼn voorvereiste om iemand skuldig te bevind aan moord nie. Murphy sê dood weens natuurlike oorsake of selfmoord is hoofsaaklik uitgesluit weens Thandi se gedrag en talle leuens. Sy het moontlik tussen 30 en 40 leuens in en buite die hof vertel.

Die hof het bevind dat die waarnemende regter se owerspel het die huwelik in 2009 tot ʼn breekpunt gebring. Hy was ontsteld en het die dag vóór sy dood, aan vriende erken dat hy van sy vrou wil skei.

Volgens Murphy het Thandi ʼn privaatspeurder aangestel om Patrick se privaatlewe te ondersoek en het gedreig om sy minnaresse te konfronteer en om hom voor sy vriende, familie en kollegas te verneder.

Jeff Radebe, minister van justisie, het haar ure voor die waarnemende regter se dood gesien en het gesê sy was “kwaad en opgewerk”.

Vela Mabena, wat as haar medepligtige verhoor is, is vrygespreek omdat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat Mabena by die moord betrokke was nie.

Mabena is uit die hof en Maqubela het alleen bly staan terwyl ʼn oormag fotograwe rondom haar foto’s begin neem het. Sy het ʼn groot, swart leersak en ʼn pienk lêer aan haar dogter oorhandig en haar omhels.

Die waarnemende regter se eerste vrou, Nzwaki Maqubela, het buite die hof gesê sy betoon haar meegevoel aan sy kinders en familie. “Dit is ʼn verligting vir almal wat hom geken het en vir hom lief was. Thandi moet die langste vonnis opgelê word, want sy is ʼn gevaar vir die samelewing.

Thandi bly in aanhouding tot haar vonnisoplegging op 20 November. 

Lees ook:
Regter se moordverdagte-vrou val flou in hof
Regter se weduwee het glo gejok oor sy dood
Geld dalk motief vir regter se dood
Uitstel gevra oor beweerde testament-vervalsing

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.