Uitspraak oor e-tol gelewer

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag uitspraak gelewer oor die omstrede e-tolstelsel in Gauteng.

Regter Louis Vorster het in sy uitspraak gesê dat die aansoek om die projek te skrap nie kan voortgaan nie, en het die aansoek afgekeur. Volgens Vorster is die basis van die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) se aansoek, dat daar nie voldoende openbare deelname aan die proses was nie, gebrekkig.

Regter Louis Vorster het op 28 November, na ʼn hersieningsaansoek van die stelsel, uitspraak voorbehou. Die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) het die hof versoek om die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se besluit om sekere gedeeltes van Gauteng se snelweë as tolpaaie te verklaar, te hersien en ter syde te stel. Outa het Sanral beskuldig dat hulle die publiek opsetlik in die duister gehou het en dat hulle oneerlik was oor die implementering van e-tol in Gauteng.

Die hersieningsaansoek het gevolg nadat regter Bill Prinsloo op 28 April vanjaar ʼn interdik teen die implementering van die e-tolstelsel toegestaan het. Die aansoek is deur Outa gebring. Sanral en die tesourie het teen die hofbevel geappelleer. In September vanjaar het die grondwethof die interdik ter syde gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae