Uitspraak voorbehou in appèlhof-saak oor Zimbabwe se grondvergrype

Mike Campbell ná sy aanval

Die appèlhof in Bloemfontein het Maandag uitspraak voorbehou in die appèl van die Zimbabwiese regering teen die Noord-Gautengse hooggeregshof. Dit volg op die hooggeregshof se registrasie en afdwinging van ’n bevinding van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-tribunaal vier jaar gelede en die beslaglegging op ’n Zimbabwiese eiendom in Kaapstad.

Die regsaksie het begin toe ’n boer van Zimbabwe, Mike Campbell, in 2008 geslaag het met ’n aksie teen die Zimbabwiese regering voor die SAOG-tribunaal in Windhoek. Die tribunaal, wat destyds saamgestel was uit vyf regters van verskillende Suider-Afrikaanse state, het in November 2008 beslis dat die Zimbabwiese grondhervormingsproses onwettig en rassisties is en dat Campbell en 77 ander boere wat by sy aksie betrokke geraak het, met rus gelaat moes word.

In die aanloop tot die verrigtinge voor die SAOG-tribunaal, is die bejaarde  Campbell, sy vrou, Angela en sy skoonseun Ben Freeth, wreed deur oorlogsveterane aangerand en geïntimideer om hulle aksie voor die tribunaal te staak. Die saak het egter voortgegaan en Campbell het geslaag, maar weens die erns van sy beserings tydens die wrede aanranding, het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan en is hy uiteindelik in April verlede jaar oorlede.

AfriForum het boere van Zimbabwe bygestaan met ’n regsproses wat in Februarie 2010 uitgeloop het op die registrasie van die tribunaal se bevinding in ’n Suid-Afrikaanse hof en die beslaglegging op ’n eiendom van die Zimbabwiese regering in Kenilworth Kaapstad, ter delging van ’n bestraffende kostebevel van die tribunaal.

Indien Zimbabwe se appèl van die hand gewys word, sal daar vir die eerste keer in die internasionale regsgeskiedenis, voortgegaan word met die geregtelike verkoping van ’n eiendom van ’n staat wat hom aan growwe menseregtevergrype skuldig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.