Uitspraak in Solidariteit se hofsaak oor die absolute uitsluiting van sekere rasgroepe vir poste is Donderdag voorbehou. Die saak sou aanvanklik vandag voortgegaan het, maar die regter het besluit dat die partye skriftelik hul finale betoë moet lewer. Die vakbond het aansoek gedoen om ’n interdik om die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) te keer om voort te gaan met die vul van poste terwyl die hofsaak aan die gang is.
Die hofsaak volg op die herrie op sosiale media nadat Woolworths, soos die SANB, ook poste vir sekere rasse gereserveer het.
Solidariteit het verlede week hofstukke aan die SANB voorgelê waarin die hof gevra word om uitsluitsel te gee oor of ’n werkgewer ’n absolute verbod op aansoeke van sekere rasgroepe vir vakante poste mag plaas.
“Die beginsel waarvolgens mense nie vir poste kan aansoek doen as hulle nie ’n bepaalde ras is nie, moet in die hof getoets word. Indien ons met hierdie saak slaag om ʼn presedent te skep, sal dit van toepassing wees op alle maatskappye wat hulle aan hierdie praktyk skuldig maak,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.