Uitstel gevra oor beweerde testament-vervalsing

Patrick Maqubela

Patrick Maqubela

Die uitspraak in die moordverhoor van Thandi Maqubela is Maandagoggend vertraag toe haar prokureur ʼn aansoek ingedien het dat die saak weer oopgemaak moet word.

Maqubela se prokureur, Marius Broeksma, het aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê hulle wil hê die saak moet “tot ʼn baie beperkte mate”, op klagtes twee en drie, naamlik bedrog en vervalsing, weer oopgemaak word.

Hy het ʼn verklaring ingedien en gesê hulle is van plan om nog getuies te roep.

Maqubela en haar medebeskuldigde, Vela Mabena, het onskuldig gepleit op aanklag dat hulle haar man, waarnemende regter Patrick Maqubela, op 5 Junie 2009 in sy huis in Seepunt, Kaapstad, met kleefplastiek versmoor het.

Thandi Maqubela het ook onskuldig gepleit op aanklag dat sy haar man se handtekening op sy testament vervals het en dit valslik by die meester van die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het. Die aanklag van vervalsing op die akte van beskuldiging is onlangs van “vervalsing van ʼn handtekening” verander na “vervalsing van ʼn testament”.

Die staat het vroeër aan die hof gesê geen testament is ingedien ten tyde van Maqubela se afsterwe nie en sy finansiële raadgewer het volgehou dat daar geen testament bestaan het nie.

Op 23 April 2010 het die meester egter ʼn brief van sy weduwee ontvang waarin sy verklaar het dat sy ʼn testament tussen dokumente in bokse opgespoor het en dat die dokument in Maart 2009 gedateer is.

Broeksma het Maandag gesê hy sal getuies roep om te bewys dat die bokse die regter se persoonlike besittings bevat het. Hy sê die aansoek sal nie verder gevoer word indien die staat hieraan toegee nie.

“Die staat sal glad nie so toegewing maak nie,” het staatsaanklaer Bonnie Currie-Gamwo gesê. Sy het die verdediging gekritiseer dat hulle ʼn aansoek ter elfder ure gebring het en bevraagteken wanneer die kwessie gefinaliseer sal word, aangesien sommige getuies hulself in Johannesburg en Engeland bevind. “Nie een van die getuies kan vir ons sê wat in enige stadium binne die bokse was nie,” het sy gesê.

Die hof moes Maandag uitspraak gelewer het.

Randall Titus, vir Mabena, het gesê sy kliënt wil hê die hofsaak moet so gou as moontlik afhandel en het die hof versoek om sy belange in ag te neem.

Regter John Murphy sal na verwagting Maandag ʼn besluit neem oor die aansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rudie Thirion ·

Mens heropen ‘n saak of klag. Jy maak nie ‘n klag weer oop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.