UJ-ontvoering: Verdagte vasgetrek

Argieffoto van die Universiteit van Johannesburg

‘n 18-jarige man is Vrydag in Ennerdale in die suide van Johannesburg in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ‘n student aan die Universiteit van Johannesburg.

“Die man het die gekaapte motor by hom gehad in Ennerdale uitbreiding vier,” het konst. Elizabeth Mnguni, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy sal van die besit van ‘n gekaapte voertuig aangekla word.

‘n 23-jarige vrou is Donderdag deur gewapende mans gekaap en ontvoer toe sy haar motor op die kampus parkeer het. Die mans het haar om 09:00 in die Kingsway-parkeerterrein genader en ‘n vuurwapen op haar gerig. Hulle het haar gedwing om na die passasiersitplek te beweeg. Hulle het toe glo na ‘n leë parkeerarea gery waar hulle haar hande vasgebind en haar in die kattebak geplaas het. Hulle is vandaar na ‘n kitsbank.

“Sy sê sy het haar pinkode vir hulle gegee, omdat hulle onderneem het om haar dan nie seer te maak nie,” het Mnguni gesê.

Die mans het haar in ‘n oop gebied in Eldoradopark afgelaai waar sy later opgespoor is. “Sy is na die polisiestasie geneem waar ‘n motorkapingsaak oopgemaak is, maar die saak is na Brixton verwys, aangesien die misdaad in daardie omgewing plaasgevind het.”

Prof. Derek van der Merwe, vise-kansellier vir strategiese dienste van UJ het gesê die universiteit het met die student vergader. “Ons het haar uitgevra om soveel as moontlik inligting te bekom en om haar van die nodige ondersteuning te voorsien,” het Van der Merwe gesê. “Dit was duidelik ‘n erge traumatiese voorval en UJ sal berading aan haar en haar familie verskaf.”

Van der Merwe sê die universiteit en die polisie werk nou saam.

Lees ook:
UJ-student op kampus ontvoer en as gyselaar aangehou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.