UJ-student geskiet tydens rooftog

ʼn Student is Dinsdagaand geskiet en gewond buite die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein-kampus.

“Die universiteit kan bevestig dat ʼn 30-jarige student geskiet is tydens ʼn rooftog buite die gronde van die Doornfontein-kampus,” het Herman Esterhuizen, woordvoerder van die universiteit, gesê. “Die student is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.” Esterhuizen sê die voorval het omstreeks 20:30 Dinsdagaand plaasgevind. Die student het glo iets gaan koop om te eet en is deur twee mans gekonfronteer op pad terug na die kampus. Die polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie. Esterhuizen sê die voorval het nie op dieselfde kampus plaasgevind as verlede week se kaping nie. ʼn 23-jarige student is verlede week gekaap en ontvoer terwyl sy haar motor parkeer het op die universiteit se Kingsway-kampus. Die student is in haar motor se kattebak geprop waarna die man na ʼn OTM gery het. Hy het haar gedwing om haar bankkaart se pin vir hom te gee voor hy haar in Eldorado Park afgelaai het waar sy later gevind is. ʼn Man is reeds in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Lees ook:
UJ-ontvoering: Verdagte vasgetrek
UJ-Student op kampus ontvoer en gyselaar gehou

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.