UJ-Student op kampus ontvoer en gyselaar gehou

Argieffoto. Foto: UJ

ʼn 23-jarige student van die Universiteit van Johannesburg het aan Eyewitness News beskryf hoe sy Donderdag van die kampus ontvoer en as gyselaar aangehou is vir langer as ʼn uur terwyl haar aanvaller kontant uit al haar rekeninge onttrek het.

Die student, wat anoniem wil bly, het gesê ʼn man het haar met ʼn vuurwapen gedreig toe sy haar voertuig by die Kingsway-kampus in Aucklandpark parkeer het voor haar klasse begin het.

Sy beweer sy het skaars 100m van die universiteit se beskermingsdiens geparkeer, toe die gewapende man haar genader het.

“Ek het die loop van die geweer vasgehou en vir hom gesê hy kan die voertuig kry,” het die student gesê. Sy het gesê die man het haar selfoon en bankkaarte gevat en gesê hy wil gaan geld trek.

“Hy het my hande met ʼn plastiekkabeltjie vasgebind, waarna hy al die inhoud van my kattebak, waaronder al my universiteithandboeke, uitgegooi en my in die kattebak in geboender het.”

Die man het die universiteit in haar voertuig verlaat, met haar in die kattebak.
Sowat ʼn uur nadat sy ontvoer is, is sy naby Eldoradopark afgelaai, waar sy ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het.

Volgens Eyewitness News gaan die universiteit vandag met die student vergader.

Bron: EWN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.