Uniondale-moord: Verdagte was uit op borg

hofhamertjie31ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn 8-jarige meisie verkrag en vermoor het, was uit op borg toe hy glo die misdaad gepleeg het.

Die verdagte het Maandag in die Uniondale-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn. Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die man is aangekla van die moord op en verkragting van Shafeeka Baartman. Hy het nie om borg aansoek gedoen nie en die saak is tot 13 Januarie uitgestel vir verdere ondersoek. Ntabazalila sê die verdagte was ten tyde van sy inhegtenisname uit op borg in ʼn ander verkragtingsaak. Die slagoffer in dié saak wou glo aanvanklik die aanklagte terugtrek maar het intussen besluit om voort te gaan met die saak. “Dit beteken die verdagte sal op twee aanklagte van verkragting, ontvoering en moord teregstaan wanneer hy weer in die hof verskyn.” Baartman se liggaam is Vrydagaand gevind. Sy het ʼn serp om haar nek gehad en haar bene was met ʼn kledingstuk vasgebind. Baartman is vroeër die dag deur haar ma na ‘n vriend se huis gestuur om geld te gaan haal. “Op pad na die huis het ‘n verdagte haar te voet genader en haar na sy huis geneem. Sy is vermoedelik hier verkrag en vermoor.” Die 31-jarige verdagte is Saterdag op ʼn plaas buite Uniondale in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henko ·

Verkragters en moordenaars behoort nie borg te kry nie. Hierdie voorvalle kom meer en meer voor.

Peter Says ·

Eenkeer n verkragter, altyd n verkragter. Dit gaan my verstand ten bowe dat hy hoegenaamd borg gekry het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.