Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het sommige eksamens uitgestel nadat dit aan die lig gekom het dat vraestelle uitgelek het.
Martin Ramatshela, Unisa se woordvoerder, het Woensdag in ʼn verklaring bevestig dat vier modules hierdeur geraak word.
Volgens Ramatshela sou die vraestelle tussen 15 Mei en 20 Mei geskryf word, maar dit is nou onbepaald uitgestel.
Die eksamens in die modules is spesifieke finansiële verslaggewing (FAC 3703), onderskeidende finansiële verslaggewing (FAC 3702), groepsfinansiële verslaggewing (FAC 3704) en finansiële beplanning en bestuur (ACN 3073).
“Die universiteit het dringend sy interne ondersoekmaatreëls ingestel om te bepaal hoe die vraestelle uitgelek het en wat die omvang van die situasie is,” het Ramatshela gesê.
– Sapa