Universiteit verkoop dalk “grade” in Suid-Afrika

AUOL gegradueerdesDie American University of London (AUOL) het glo MBA-grade vir R73 000 verkoop sonder dat hulle enige akademiese werk daarvoor verrig het, het ʼn BBC Newsnight-ondersoek bevind.

Danie Strydom, hoof uitvoerende beampte van QVS, ʼn maatskappy wat kwalifikasies kontroleer, het gesê vervalsde grade en diplomas is reeds ʼn probleem in Suid-Afrika en dié vervalsings kan aansienlik tot die probleem bydra.

“Ons het nog nie op enige AUOL-grade afgekom nie, maar dit beteken nie dat dit nie in Suid-Afrika deur mense in senior posisies gebruik word nie,” het Strydom gesê.

Die ondersoek het bevind dat die “universiteit” ʼn meestersgraad in besigheid toegeken het aan ʼn fiktiewe persoon wat deur die program opgestel is in ruil vir £4 500 (ongeveer R73 000).

AUOL hou vol hy is nie ʼn “skyn universiteit” nie en het sy kwalifikasies verdedig.

Newsnight-verslaggewers het glo in hul soektog na “gegradueerdes” op honderde senior uitvoerende beamptes in Engeland afgekom wat aangevoer het dat hulle oor AUOL-grade beskik.

Strydom sê vervalsde kwalifikasies kom baie meer algemeen voor as wat werkgewers besef. “Daar is nog nie ʼn bewustheid van hoe maklik dit is om ʼn vals graad aan te skaf nie, en die diplomas lyk presies soos die ware Jakob. Daar is in sommige gevalle selfs dienste waar iemand ʼn telefoon sal beantwoord om die houer se “graad” te bevestig.”

Gemiddeld 13% van alle grade wat sy maatskappy kontroleer is vervalsings. Hy waarsku die besigheidsgemeenskap om nie enigiemand aan te stel sonder om hul kwalifikasies na te gaan nie.

Kontak Danie Strydom by 021 880 1033 of stuur ʼn e-pos na [email protected], of besoek QVS se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.