Universiteitsaansoeke dalk eersdaags gesentraliseer sê Blade Nzimande

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys

Minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, het aangekondig dat sy departement voortaan alle universiteitsaansoeke sal behartig ná Dinsdag se stormloop waar ʼn vrou dood is, het Dispatchonline Woensdag berig.

Nzimande sê hy oorweeg dit om matrikulante te verhoed om persoonlik laat aansoeke by universiteite in te dien. Gloria Sekwela, wat Dinsdag saam met haar seun, Kgositsile, in die lang ry buite die Universiteit van Johannesburg (UJ) gestaan het, is dood ná ʼn stormloop plaasgevind het. Ten minste 16 ander mense is in die stormloop beseer. “Ons wil definitief graag ʼn sentrale punt oprig waar mense vir universiteite kan aansoek doen,” het Nzimande gesê. Volgens Nzimande gebruik KwaZulu-Natal hierdie metode en hulle is deur die Raad van Hoër Onderwys aangeraai om alle universiteitsaansoeke te sentraliseer.

Die stelsel sal glo teen Januarie 2013 in werking wees. “Iets wat ons baie sterk moet oorweeg is of ons hoegenaamd studente wil toelaat om persoonlik by universiteite aansoeke in te dien,” het Nzimande gesê. Nzimande sê dat die situasie vererger word deur voornemende studente wat sonder beroepsvoorligting opdaag en nie weet wat die minimum vereistes vir universiteitstoelating is nie.

Nzimande sê sy departement sal leerders teen die middel van die jaar by al 7 000 hoërskole van beroepsvoorligting voorsien. Volgens Nzimande sal hulle poog om die standaard by 50 kolleges vir Verdere Onderrig en Opleiding (VOO) te verbeter om die “persepsie” dat die kolleges nie werklike alternatiewe vir universiteite is nie, te smoor.

President Jacob Zuma sal glo volgende maand tydens sy staatsrede ʼn aankondiging doen rakende planne om nuwe universiteite op te rig, een in die Noord-Kaap en een in Mpumalanga, het Nzimande bygevoeg.

Tendane Nembidzane, president van die Verteenwoordigende Raad vir Studente (VSR) by UJ, het die universiteit se bestuur vir die stormloop blameer en gesê dat hulle slegs van hul eie sekuriteitswagte gebruik gemaak het en nie kundiges ontbied het wat skarebeheer kon toepas nie. Professor Ihron Rensburg, die vise-kansellier van die universiteit, het gesê dat hy reeds ʼn interne ondersoek van stapel gestuur het om uit te vind wat presies gebeur het.

Intussen staan voornemende studente by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en die Universiteit van Pretoria (Tuks) sedert gister buite die onderskeie hekke waar hulle ook vir die klein aantal beskikbare plekke meeding. By die Arcadia-kampus van TUT was daar gister ook frustrasie, verwarring en ongeduld te bespeur toe voornemende studente mekaar in die rigting van die draaihek begin stoot en stamp het.

ʼn Enkele studentewerker met ʼn oorhemp waarop “Ask Me” geskryf staan het buite raad aangebied, maar hy kon skaars voorbly.

Mandla Ditaunyane van Kwaggafontein in Mpumalanga het saam met sy seun opgedaag, wat graag rekenaarwetenskap wil studeer. Ditaunyane blameer lewensoriënteringsonderwysers wat leerlinge nie voldoende inligting gee oor hoe om by universiteite aansoek te doen nie. “Ek was nooit in die universiteit nie en ek weet nie eers waar om te begin om aansoek te doen nie,” het hy gesê. “Ek het ʼn dag verlof ingesit by my werk maar ek twyfel of ons binne ʼn dag gaan regkom.”

Die universiteit het meer as 30 000 aansoeke vir slegs 8 000 beskikbare plekke ontvang. Registrateur Stephen Fourie het in Grahamstown gesê dat Rhodes Universiteit moontlik nog laat aansoeke sal aanvaar, maar dit sal net vir “uitnemende studente” wees. Die universiteit moes met die gewone toeloop van laaste-minuut aansoeke meeding maar was redelik streng met sy sperdatums.

Desiree Wicks, bestuurder van die studenteburo het gesê hulle het die sperdatum vir laat aansoeke as 31 Oktober 2011 aangedui maar hulle het tot in Desember steeds aansoeke van “baie goeie aansoekers” aanvaar. Angela Church, woordvoerder vir die Walter Sisulu Universiteit het aangedui dat algemene registrasies in Oos-Londen eers Maandag sal begin. “Ons kry altyd meer aansoekers wat kwalifiseer as wat ons kan hanteer en ons moet altyd studente wegwys. Ons kry jaarliks talle laat aansoeke en ons verwag dat dit dié jaar weer so sal wees. Ons kan nie die presiese getal voorspel nie, maar mens kan aanneem dat indien die slaagsyfer hoër is, sal die aantal aansoeke ook toeneem,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.