US-studentesentrum wéér ontruim

Die foto is deur @deidrebaartman op Twitter gelaai.

Die Neelsie-studentesentrum aan die Universiteit Stellenbosch is Donderdagaand vir ʼn tweede keer ontruim weens die “verdagte optrede van ʼn persoon wat die sentrum besoek het”.

Die sentrum is vroeër die dag ook ontruim ná ʼn bomdreigement. Die universiteit sê in ʼn verklaring dat daar besluit is om die Neelsie net voor 20:00 Donderdagaand weer te ontruim. Die honde-eenheid van die polisie het weer die gebou gefynkam. Hoewel die polisie die gebou veilig verklaar het, is daar besluit dat dit eers Vrydagoggend weer sal heropen. Die universiteit sê hy het bykomende veiligheidsmaatreëls in plek gestel.

Die universiteit het in ʼn vroeëre verklaring gesê dat die dienssentrum omstreeks 13:00 ʼn oproep ontvang het waartydens die persoon gedreig het dat daar ʼn bom in die Neelsie-studentesentrum geplant is. Die sentrum se bestuur is onmiddellik in kennis gestel en die sentrum is ontruim. Die polisie se honde-eenheid het die gebou deursoek. Die Neelsie is om 16:30 veilig verklaar en heropen. Die universiteit se rektor, prof. Russel Botman, is in kennis gestel van die situasie. Hy het sy tevredenheid uitgespreek rakende die vordering van die proses en personeellede en studente bedank vir hulle samewerking en geduld. Die universiteit staan die polisie by met sy ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.