Vaaldamvlakke daal met meer as 20%

Foto ter illustrasie. (Foto: Luis Tosta/Unsplash)

Die Vaaldam se watervlak het vandeesweek nóg laer gedaal as in 2019 en is nou een van die damme waarvan die watervlak die vinnigste daal in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel (GVRS).

Dit volgens syfers van die nasionale departement van water en sanitasie.

Die Vaaldam was die afgelope twee weke 41,6% vol, maar het dié week tot 39,6% gedaal. Dit beteken dié dam het nou sowat 23% minder water as verlede jaar, toe dit 62,3% vol was.

Damvlakke reg oor Suid-Afrika het ook die afgelope week gedaal, maar die meeste is steeds voller as wat dit gedurende ooreenstemmende tyd verlede jaar was.

Die Grootdraaidam in Mpumalanga se watervlak het van 80,6% verlede week tot 79,9% hierdie week gedaal. Ondanks die daling is die dam steeds in ʼn gesonde posisie en is die watervlak hoër as verlede jaar dié tyd toe die vlak op 64,0% gestaan het.

Die Sterkfonteindam in die Vrystaat se vlak het dié week met 0,5% gedaal. Die watervlak is tans 93,5% teenoor verlede week se 94,0%. Nietemin is die watervlak beter as laasjaar dié tyd toe dit 92,2% vol was.

Die Bloemhofdam se watervlak het die afgelope week ʼn effense daling van 0,6% gehad, maar is steeds 98,2% vol. Die dam het die vorige jaar gedurende dieselfde week op 97,6% gestaan.

Die Mohale-dam in Lesotho is egter amper heeltemal leeg en die watervlak het die afgelope week verder gedaal tot 6,7%. In 2019 het die Mohale-dam op 33,2% gestaan.

Die watervlak van die Katsedam in Lesotho het vandeesweek van 30,1% tot 28,7% geval, maar is sterker as in 2019 toe dit slegs 18,8% vol was.

Ondanks die daling in damvlakke, sê die departement dat die GVRS stabiel is. Die stelsel is tans 61,8% vol, ná ʼn daling van 0,9% sedert verlede week. Dit is egter laer in vergelyking met die 67,5% wat in ooreenstemmende tydperk in 2019 aangeteken is.

Die departement van water en sanitasie het ʼn beroep op waterverbruikers gedoen om water te bespaar om damme se kapasiteit te verbeter. Die departement dring veral daarop aan dat verbruikers lekkasies en gebarsde pype moet aanmeld om onnodige watervermorsing te voorkom.

Die departement voer aan dat die beperking van oormatige watergebruik veral belangrik is tydens die Covid-19-pandemie, aangesien konstante watervoorsiening noodsaaklik is om die verspreiding van dié virus te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Hoeveel kieme word versprei deur die besoedelde Vaalrivier stelsel

Misky ·

Terwyl ek die artikel lees, dink ek aan die minister wat so paar jaar gelede gesê het dis die vorige regerende partye (blankes) se skuld dat damvlakke so laag is…… hulle het die damme te groot gebou. As dit kleiner was, sou dit vinniger vol raak. Ek raak sommer van vooraf aan die lag :-)

Michael ·

Ek wonder self en watter vlak is dan die een wat bepaal hoeveel water tot ons beskiiking is

Jaco ·

Raak dit dan droog in ANC-wêreld ook? In 2017 het ‘n ANC-raadslid vanaf iewers in die binneland dan gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar DA stem. So nou wonder ek maar net: as dit dan alles binne die wil van God is om ANC te STEM en dus te stem vir korrupsie, swak of geen munisipale dienslewering, slaggat in paaie ens ens, watse sonde doen die kiesers daar in die ANC-wêreld dan dat die Here hulle nou ook met droogte straf?

koos10 ·

Dit sal bietjie help ANC, om al die lekplekke in die sisteem en banksaldo reg te maak. In 2018 sou ‘n spul werkloses opgelei word vir die doel. Waar is hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.