Vaartuig lek weer olie op Bloubergstrand

Foto: SANCCOB

ʼn Opruimingsoperasie is Maandag op Bloubergstrand in Kaapstad hervat nadat die gestrande vragskip, Seli 1, naby Robbeneiland oor die naweek weer olie gelek het.

Die vaartuig is al sedert September 2009 gestrand nadat dit enjinprobleme opgedoen het. Seli 1 het verlede jaar in September in stukke gebreek en ook olie gelek.

Olie het Vrydag weer tydens rowwe seetoestande begin uitlek en omliggende strande besoedel en pikkewyne bedek. Bloubergstrand, Tableview en Dolphin Beach word deur die lekkasie geraak.

Volgens die stad se rampbestuurowerhede is skepe ontplooi om die olielek te probeer beperk.

Wilfred Solomons-Johannes, ʼn woordvoerder, het gesê ʼn paar pikkewyne is reeds naby Robbeneiland met olie bedek. “Beamptes het die pikkewyne gevang. Hulle is na die vasteland geneem, waar hulle skoongemaak en gemonitor sal word. Die betrokke gebiede sal ook deurgaans gemonitor word,” het Solomons-Johannes gesê.

Dit is die vierde olielek van dié vaartuig sedert dit gestrand geraak het. Suid-Afrikaanse owerhede benodig nagenoeg R40 miljoen om die wrak te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.