“Vaarwel my beste vriend en die lig van my lewe”

Carine Conradie en Areff Haffejee Foto: Facebook

Areff Haffejee, wat Donderdagoggend saam met ‘n polisiebeampte in sy Audi R8 in ‘n noodlottige ongeluk was, se gesin bid vir genesing na dié traumatiese gebeurtenis.

Haffejee se gesin betwyfel of dagga werklik in Haffejee se motor opgespoor is, soos daar tot dusver gesê is, berig EWN. “Ons verstaan dat tyd genees. Die familie spandeer baie tyd om vir Areff te bid en om so gou as moontlik oor sy dood te kom,” het ‘n emosionele Carine Conradie, Areff se vriendin, gesê.

“Vaarwel my beste vriend, my avontuurmaat en die lig van my lewe. Geen maan of koel bries vanaand hier op die patio om my aan jou te herinner nie.. maar hulle sal terugkom… eendag. Jy was die vrygewendste en liefdevolle persoon wat ek ooit ontmoet het en my lewe was wonderlik tydens die drie jaar wat ons saam spandeer het. Ek het jou totaal liefgehad en jy my – ek was bevoorreg om deel te kon wees van jou reis. Totsiens my Haff,” het Conradie op haar Facebook-blad geskryf. Die paartjie het Nuwejaar in Amsterdam spandeer en aan die begin van Januarie eers teruggekeer na Suid-Afrika.

Die polisie in Gauteng versoek enigiemand met inligting om hulle ondersoek te ondersteun, aangesien talle vrae rondom dié ongeluk nog onopgelos bly. Die ongeluk het Donderdag omstreeks 04:00 in Oxfordweg in Rosebank, Johannesburg, plaasgevind. Konstabel Goodman Lubisi is ook in die ongeluk dood. Haffejee is glo aanvanklik in Rivoniaweg in Sandown deur twee polisiebeamptes afgetrek en sy voertuig deursoek toe hulle na bewering op ‘n klein bietjie dagga afgekom het. Haffejee het glo, met Lubisi op die passasiersitplek, weggejaag. Hy het na bewering in Oxfordweg beheer verloor oor die voertuig en ‘n boom, muur en lamppaal getref.

“Ons ondersoek al die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het,” het Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.