Vakbond bekommerd oor Telkomhoof se bedanking

Nombulelo “Pinky” Moholi

Die vakbond Solidariteit het Maandag die bedanking van Nombulelo “Pinky” Moholi, uitvoerende hoof van Telkom, as ’n terugslag vir die telekommunikasiereus beskryf. Die vakbond het die hoop uitgespreek dat ’n waardige opvolger die leisels by haar sal oorneem.

Maroela Media het vroeër berig Moholi het Telkom in kennis gestel dat sy gaan bedank voor haar kontrakperiode verstrek. Sy het haar vereiste sesmaande-kennis aan die raad in dié verband gegee.

Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, sê die maatskappy was onder Moholi se bestuur redelik bestendig ten spyte van moeilike omstandighede. “Moholi is die soveelste uitvoerende hoof van Telkom om die afgelope paar jaar te bedank en dit sal bydra tot verdere onbestendigheid in die maatskappy. Telkom sit met verskeie probleme, waaronder ’n reuseboete van die Mededingingstribunaal, ’n mislukte transaksie met die Suid-Koreaanse KT Corporation en swak finansiële vooruitsigte. Solidariteit is bekommerd oor wie volgende die leisels gaan oorneem, want Moholi se opvolger sal weer bestendigheid in die maatskappy moet vestig,” het Croucamp gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.