Vakbond en die DKD binnekort in hof oor omstrede regstelplan

Die arbeidshof in Kaapstad het bekend gemaak dat die hofsaak van die vakbond Solidariteit teen die omstrede regstellendeaksieplan van die departement korrektiewe dienste (DKD) in die Wes-Kaap van 22 April tot 6 Mei in die hof aangehoor gaan word. 

Volgens die DKD se regstellendeaksieplan moet die nasionale rassedemografie in elke werksplek, selfs op provinsiale en streeksvlak, weerspieël word. Gevolglik het wit – en veral bruin – werknemers in die Wes-Kaap byna geen kans meer op bevordering en aanstellings nie. Die DKD se plan bepaal dat bruin Suid-Afrikaners slegs 8,8% van die werknemers in die DKD in die Wes-Kaap moet uitmaak, terwyl bruin Suid-Afrikaners sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking in die provinsie uitmaak.

Solidariteit voer aan dat die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging onbillik, irrasioneel en onwettig is. Volgens Solidariteit gaan hierdie regstellendeaksiehofsaak die omvangrykste nóg in Suid-Afrika wees.

“Die feit dat die saak vir 10 dae op die hofrol geplaas is, wys hoe omvangryk die saak gaan wees,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Solidariteit gaan nie net vra vir ’n beslissing dat sy lede bevorder word nie, maar ook dat die regstellendeaksieplan van die DKD in sy geheel onwettig verklaar word. Die plan bepaal ook dat die streke hul regstellendeaksieplanne met die nasionale plan moet belyn.

Die hofuitspraak sal nie net implikasies vir die DKD inhou nie, maar vir alle regstellendeaksieplanne regdeur die staatsdiens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.