Vakbond sê bedanking van Anglo American-hoof is ‘n groot verlies

Cynthia Carroll

Die vakbond Solidariteit het vandag gesê die bedanking van Cynthia Carroll, uitvoerende hoof van die mynreus, Anglo American, is ’n groot verlies vir die maatskappy en die mynbedryf in Suid-Afrika. Dié maatskappy het vandag aangekondig dat Carroll ná meer as vyf jaar as uitvoerende hoof bedank het.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is Carroll se bedanking ’n reuseterugslag vir die plaaslike mynboubedryf en die land se beeld as ’n beleggingsbestemming. “Carrol was altyd ’n kampvegter vir Suid-Afrika se mynbedryf in die buiteland. Solidariteit was altyd veral beïndruk deur haar volgehoue fokus op die belangrikheid van beroepsgesondheid en -veiligheid. Dit is kommerwekkend dat sleutelpersone in die bedryf hul vertroue in Suid-Afrika se mynbedryf verloor.”

Du Plessis het Carroll geloof vir die baanbrekerswerk wat sy gedoen het om die verhoudings tussen die departement van minerale hulpbronne, die bestuur van Anglo American en vakbonde te bou. So het sy ’n formele alliansie tussen dié partye gevestig. “Carrol was nooit bang om die regte besluite te neem en deur te voer nie – of dit nou gewild was of nie. Dit is beslis die nalatenskap waarvoor sy in die bedryf onthou gaan word en Solidariteit wens haar sterkte toe vir haar loopbaan vorentoe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.