Vakbond sê lugmag moet oop kaarte speel

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) moet oop kaarte speel oor die beëindiging van sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG en die gevolglike aflegging van 523 vliegtuigspesialiste, het die vakbond Solidariteit Donderdag gesê. Die SALM kruip egter agter ʼn verslag van die ouditeur-generaal weg en verswyg die werklike rede vir die beëindiging van die kontrak.

Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, sê die SALM het Denel Lugvaart/AMG en vakbonde eers om die bos gelei deur voor te gee dat hy moontlik opsies om die kontrak te hernu oorweeg en deur nou agter die verslag van die ouditeur-generaal te skuil. “Die ouditeur-generaal se verslag is reeds vroeër bekendgemaak terwyl die SALM nog tot in November verlede jaar met Denel onderhandel het oor die moontlikheid om die kontrak te hernu. Indien die SALM se besluit om die kontrak te beëindig slegs op die ouditeur-generaal se verslag berus het, sou hulle nie verder oor moontlike oplossings onderhandel het nie.”

Volgens berigte het die ouditeur-generaal se verslag bevind dat die kontrak, wat sedert 1986 in werking is, nie aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA) en Nasionale Tesourie-regulasies voldoen nie. Loggenberg sê dit is egter hoogs onwaarskynlik dat die ouditeur-generaal in dié verslag, wat nie wyd beskikbaar gemaak is nie, voorgestel het dat die kontrak beëindig word. “Die ouditeur-generaal het waarskynlik eerder voorgestel dat die kontrak hersien word om aan die nodige wetgewing en regulasies te voldoen. Die SALM het dus heel moontlik die geleentheid gehad om die kontrak te hersien, maar nou word die ouditeur-generaal se verslag as ʼn rookskerm gebruik. Ons vermoed dat die lugmag eerder die kontrak beëindig het weens hulle benarde finansiële posisie om sodoende geld te bespaar deur te wag totdat al die werknemers afgelê is en sommige van hulle teen ’n laer salaris aan te stel om dieselfde werk te verrig.”

Solidariteit verteenwoordig 227 van die 523 vliegtuigspesialiste. Hierdie werknemers is landwyd by verskillende eskaders, waaronder Hoedspruit, Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Bredasdorp, Ysterplaat en Langebaan, gestasioneer. Nagenoeg 40% van die vliegtuigspesialiste is in Pretoria gestasioneer. Die departement van verdediging het op 20 Junie 2011 kennis gegee dat hy sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG gaan kanselleer, maar het tot November verlede jaar oor ʼn alternatief met Denel onderhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.