Vakbond sê minister se statistieke oor plaasaanvalle is ‘duimsuig’

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, se bewerings dat die meerderheid van plaasaanvalle as gevolg van loongeskille tussen werknemers en werkgewers plaasvind, is van sy linkerduim afkomstig. Só meen dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit en voorsitter van die Solidariteit Beweging se uitgewersmaatskappy, Kraal Uitgewers.

Hermann het vandag in ’n toespraak by die konferensie van die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) in Pretoria in ’n striemende aanval gesê die minister se kommentaar oor plaasaanvalle en die verwantskap daarvan met loongeskille is statisties “twak” wat hy uit sy duim suig.

“In die kommissie van ondersoek na plaasaanvalle, wat deur die nasionale polisiekommissaris aangestel is, se 2003-verslag is daar by slegs 1,6% van plaasaanvalle wat tussen 1998 en 2001 plaasgevind het, bevind dat arbeidskwessies ’n duidelike motief vir dié aanvalle was,” het Hermann gesê. “Prof. Herman van Schalkwyk, landbou-ekonoom en landbouer van die jaar, skryf in die eerste uitgawe van Kraal Uitgewers se boek Treurgrond dat die persentasie 1,25% is.”

Volgens Hermann veroorsaak die minister ’n onregverdige regverdigingsklimaat vir plaasmoorde op grond van ‘duimsuig’. “Indien u duim u bron is, skuld u vir Suid-Afrika en die boere ’n regstelling. Indien u statistieke het wat dit kan bewys, maak dan die statistieke oor plaasmoorde aan ons bekend,” het Hermann verder gesê.

Die eerste uitgawe van Treurgrond wat in 2011 verskyn het, word nou bygewerk en nuwe navorsing word ingevoeg. Sowat 500 nuwe aanvalle, wat nie in die vorige uitgawe verskyn het nie, is reeds bygevoeg. Dié uitgawe sal meer visueel wees en onder meer kunswerke oor plaasaanvalle deur die kunstenaar Pauline Gutter insluit. Die boek sal na verwagting voor die einde van die jaar vrygestel word.

Hermann het voorts aangevoer dat die regering se gebrek aan politieke wil om iets aan plaasaanvalle te doen een van die prominentste haakplekke in die stryd teen plaasaanvalle is. “Die TLU SA doen wonderlike werk op dié gebied en die Solidariteit Beweging, waaronder AfriForum val, het ’n omvattende plan bekendgestel om plaasaanvalle te stuit, maar wat kort in die resep teen plaasmoorde? Die antwoord is die politieke wil van die regering. Daar is ’n koudheid van die regering teenoor plaasmoorde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.