Vakbond sê nuwe grondhervormingsplan is “boelietaktiek”

Pres. Jacob Zuma se nuutste plan vir grondhervorming kom op boelietaktiek neer en gaan bloot ’n groot deel van die staat se verantwoordelikheid en koste om grondhervorming toe te pas na die kommersiële landbousektor verskuif, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Zuma het vroeër die week by ’n kongresdinee van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) voorgestel dat grondhervormingskomitees, bestaande uit alle belanghebbendes, in elke distrik op die been gebring word.

Eugene Brink, politieke ontleder by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die plan, waarvolgens die grondhervormingskomitee 20% van die kommersiële landbougrond in elke “distrik” arbitrêr sal eien en die staat dit dan teen 50% van die markwaarde sal aankoop, is nie ’n wen-wen-oplossing nie. “Dit sal opkomende boere ten koste van gevestigde boere – wat reeds onder druk is – bevoordeel, en dit is ás die nuwe boere suksesvol is. Hierdie plan veronderstel dat boere wat hul samewerking gee nooit weer vir grondhervorming geteiken sal word nie. Dit skets ’n scenario dat indien kommersiële boere help om opkomende boere se boerderye lewensvatbaar te maak, hulle dan uitgelos sal word. Dit kom op afpersing neer.”

Brink sê die plan kom voorts daarop neer dat daar van boere van omliggende plase verwag gaan word om die onteiening te subsidieer. “Dit is ’n verwronge resep om boere wat vasbyt, te penaliseer, en boere wat handdoek ingooi, te beloon. “Die staat gaan winskopies by kommersiële boere, wat die grond op hul eie gekoop en produktief gemaak het, kry en die grond dan gratis aan ‘opkomende boere’ beskikbaar stel. Die mark sal sodoende verder verwring word. ’n Mens kan ook met redelike sekerheid verwag dat die voorgestelde grondhervormingskomitees só opgestel sal word dat boere – die grondeienaars – se stem maklik oordonder kan word.”

Volgens Brink sal Zuma se plan nie die bestaande probleme met grondhervorming oplos nie. “Die uitdagings soos laat, of geen betaling deur die staat, korrupsie, burokratiese rompslomp en onbevoegde amptenare gaan nie weggaan as hierdie plan in werking gestel word nie.

“Grondhervorming is ’n voortdurende proses wat deur alle belanghebbendes in die landbousektor beding en feitelik gedebatteer moet word. So ’n proses kan slegs geskied in ’n omgewing van wedersydse vertroue en waar almal op ’n gelyke voet betrek en regverdigbehandel word. Pres. Zuma se plan stel onredelike eise aan die kommersiële sektor, skep meer vrae as antwoorde en veronderstel ’n eenvoudige oplossing vir ’n komplekse kwessie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.