Vakbond slaan nog ’n slag teen regstellende aksie

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) mag nie ’n pos waarin ’n beampte tans waarneem en waarvoor hy reeds drie keer onsuksesvol aansoek gedoen het, vul voordat sy vakbond se hofsaak hieroor aangehoor is nie. ’n Hofbevel in dié verband is Donderdag in die arbeidshof in Johannesburg uitgereik nadat Solidariteit en die SAPD vroeër die week ’n ooreenkoms bereik het.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond het om ’n dringende interdik aansoek gedoen om te keer dat die SAPD die pos vul waarin Louis Frederik Buys, ’n Solidariteit-lid, tans waarneem. “Die SAPD het voor die aanhoor van die aansoek aan Solidariteit se eis toegegee, waarna dit ’n bevel van die hof gemaak is. Solidariteit het namens Buys ’n saak teen die SAPD aanhangig gemaak nadat hy drie keer vir die pos waarin hy tans waarneem, aansoek gedoen het en telkens weens regstellende aksie oor die hoof gesien is. Solidariteit eis dat Buys in hierdie of ’n soortgelyke pos met dieselfde rang aangestel en terugwerkend tot Junie 2011 vergoed word.”

Solidariteit het in Junie vanjaar stukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waarin die hof gevra word om die SAPD se regstellendeaksieplan in sy geheel ongeldig te verklaar omdat dit strydig is met die Wet op Gelyke Indiensneming en die Grondwet van Suid-Afrika. In sy stukke fokus Solidariteit op die SAPD se toepassing van kwotas volgens die nasionale rassedemografie. Hierdie optrede het gevolg nadat Solidariteit die SAPD reeds in 14 afsonderlike sake hof toe geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.