Vakbond verklaar wéér loongeskil met Mango

Die vakbond Solidariteit het weer ’n loongeskil met die laekostelugdiens Mango verklaar en die geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys.

Dit volg op ’n soortgelyke geskil verlede jaar. Vlieëniers van Mango verdien 30% minder as hulle eweknieë by Comair en 45% minder as vlieëniers by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), hoewel Mango aan SAL behoort.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, word daar van Mango se vlieëniers verwag om dieselfde mate van bekwaamheid en verantwoordelikheid as ander kommersiële vlieëniers te hê. “Hulle vergoeding is egter steeds laer as dié van hulle eweknieë by ander laekostelugdienste. Daarbenewens verdien ’n junior vlieënier by die SAL meer as ’n senior en ervare vlieënier by Mango,” het Kruger gesê.

Solidariteit en die bestuur van Mango het in Desember 2011 ooreengekom om met ’n proses te begin om Mango-vlieëniers se vergoeding in die daaropvolgende drie jaar in ooreenstemming met die ander laekostelugdienste in die bedryf se vergoeding te bring. Die partye het egter nie eergister tydens ’n laaste onderhandelingsessie ooreenstemming bereik oor wat markverwante lone vir vlieëniers van laekostelugdienste behels nie.

“Die bestuur van Mango dring daarop aan dat vlieëniers se salarisse in ooreenstemming met dié van die laekostelugdiens 1Time aangepas moet word terwyl Solidariteit eis dat sy lede se salarisse in ooreenstemming met dié van hul eweknieë van Kulula, ’n afdeling van Comair, verhoog moet word. Die werkgewer voer aan dat Kulula nie in dieselfde klas as Mango val nie, aangesien Comair nie ’n laekostelugdiens is nie. Vlieëniers van Kulula verdien 30% meer as hul eweknieë by Mango terwyl vlieëniers by 1Time slegs sowat 3% meer verdien as Mango se vlieëniers. Die werkgewer het intussen ’n loonverhoging van tussen 6% en 9% aangebied. Mango se aanbod gaan egter geen bydrae lewer tot dié proses nie en gaan veroorsaak dat Mango-vlieëniers se vergoeding al verder agter raak wanneer dit met die res van die bedryf vergelyk word,” verduidelik Kruger.

Solidariteit is daartoe verbind om onderhandelinge voort te sit en ’n oplossing rondom die onderhandelingstafel te probeer bereik. Solidariteit het in 2010 ’n erkenningsooreenkoms met Mango gesluit, wat die vakbond bedingingsmag verleen om namens sy lede vir, onder meer, loonverhogings te onderhandel. Solidariteit verteenwoordig die oorgrote meerderheid van Mango se vlieëniers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.